UMHLANGA LIFE - THE ONLINE LIFESTYLE MAGAZINE

Weather

DURBAN WEATHER

Sunday, July 26, 2026

Spaar wat jy kan - jou toekoms hang daarvan af

 

Jou hardverdiende geld is lank voor die einde van die maand op, en dit voel asof dit eenvoudig nie moontlik is om vir iets betekenisvols te spaar nie. In plaas daarvan om nog ’n finansiële las by te voeg, stel baie mense spaar uit totdat hulle eendag meer verdien.

Spaar wat jy kan - jou toekoms hang daarvan af.


Maar kom ons wees eerlik: ’n Hoër inkomste lei dikwels tot ’n duurder leefstyl, hoër uitgawes en steeds geen spaargeld nie.

Spaar gaan nie daaroor om vir ’n groter salaris te wag nie. Dit gaan daaroor om die gewoonte te kweek om gereeld geld opsy te sit – selfs klein bedrae – sodat jy mettertyd ’n veiliger finansiële toekoms kan bou.

Hierdie Spaarmaand daag die Vereniging vir Spaar en Belegging Suid-Afrika (ASISA) jou uit om te spaar wat jy kan, want jou toekoms hang daarvan af.

Spaar vir jou toekoms

Daar is twee belangrike redes waarom jy behoort te spaar. Eerstens is die lewe onvoorspelbaar. ’n Noodfonds kan help om onverwagte mediese uitgawes, herstelwerk of skoolkoste te betaal sonder dat jy op duur skuld hoef staat te maak.

Tweedens moet jy vir jou aftrede voorsiening maak. Hoe meer jy vir aftrede spaar, hoe groter is jou finansiële onafhanklikheid en hoe minder afhanklik sal jy van ander wees. ’n Gesonde aftreefonds gee jou ook die geleentheid om jou aftrede met groter gemak en gemoedsrus te geniet.

Dit gaan minder oor hoeveel jy spaar en meer oor die gewoonte om konsekwent te spaar. Selfs R20 of R50 wat gereeld opsy gesit word, kan met verloop van tyd aansienlik groei. Wanneer jou spaargeld belê bly, trek dit voordeel uit saamgestelde groei – met ander woorde, jy verdien rente op rente.

Hierdie Spaarmand daag jouself uit om te spaar wat jy kan deur die volgende mites te ontken:

Mite 1: “Ek kan begin spaar wanneer ek meer verdien.”

Moenie wag vir die perfekte tyd nie. Begin eerder met ’n bedrag wat jy gemaklik kan bekostig en laat dit outomaties op betaaldag na ’n spaarrekening oorplaas word. Hou jou spaargeld in ’n vaste deposito of soortgelyke rekening om onnodige onttrekkings te voorkom.

Spaarwenk: Verminder een klein uitgawe hierdie maand – ‘n koeldrank by middagete of wegneemetes op Vrydagaand -  en plaas daardie bedrag direk in ’n aparte spaarrekening.

Mite 2: “Om klein bedrae te spaar maak geen verskil nie.”

Baie mense dink spaar werk net as jy elke maand baie geld wegsteek. Elke suksesvolle spaarder het klein begin.

Wanneer jy gereeld spaar, groei nie net jou spaargeld nie, maar ook jou selfvertroue. Gebruik ekstra inkomste, soos ’n bonus of stokvel-uitbetaling, om jou spaargeld verder aan te vul.

Konsekwentheid is belangriker as volmaaktheid.

Spaarwenk: Spaar in ‘n spaarrekening vir ’n spesifieke doel, soos ’n “Noodfonds” of “Skoolfonds”. Mense bly makliker gemotiveerd wanneer hulle presies weet waarvoor hulle spaar.

Mite 3: “Dit maak nie saak as ek uit my aftreefonds se spaarpot onttrek nie.”

As jy reeds aan ’n aftreefonds behoort, is jy op die regte pad. Gereelde onttrekkings uit die spaarpot verminder egter jou uiteindelike aftreevoordeel aansienlik.

Jy verloor boonop die voordeel van saamgestelde groei, en onttrekkings is onderhewig aan belasting en administrasiefooie.

Spaarwenk: Bou ’n noodfonds op sodat onverwagte uitgawes nie jou aftreespaargeld in gevaar stel nie.

Spaar wat jy kan

Jy hoef nie perfek te spaar nie. Sommige maande sal moeiliker wees as ander, en dit is heeltemal normaal.

Wat werklik saak maak, is om die gewoonte te vorm om gereeld iets opsy te sit. Klein, gereelde spaargeld vandag kan jou môre meer keuses, groter finansiële sekerheid en groter gemoedsrus gee.

Hierdie Spaarmaand, moenie fokus op hoeveel jy kan spaar nie. Fokus daarop om eenvoudig te begin.

Spaar wat jy kan – jou toekoms hang daarvan af.

Hierdie inhoud word aan jou gebied deur die Vereniging vir Spaar en Belegging Suid-Afrika (ASISA) as deel van sy Spaarmaand-opvoedingsinisiatief om meer Suid-Afrikaners aan te moedig om #SpaarWatJyKan.




No comments:

Post a Comment